Jesus die Geneesheer
Enige vorm van geneeskunde het ‘n sekere bepaalde sukses faktor presentasie. Waarom het goddelike genesing so ‘n onreëlmatige sukses faktor? Waarom het net sommige individue wat vir siekes bid, redelike sukses? Hoe blywend is hierdie sukses? Iemand wat siek is, is desperaat vir ‘n oplossing enige redelike kans selfs 50/50, sal ‘n desperate lyer nuwe hoop gee. Sommige sal pleit dat ‘n vorm van geneeskunde met so ‘n swak sukses, sumier verwerp word? Selfs natuurlike medikasie het ‘n baie meer beduidende sukses faktor. Om vir mense te bid vir genesing en dit as God se liefde te beskryf is problematies, want hoekom word sommige gesond en ander nie?
Die vraag is nie óf God mense genees nie, maar eerder hoekom Hy nie almal genees nie.
In verskeie vraelyste is bepaal dat die meeste mense, sowel as doktors glo dat gebed voordelig is vir siek mense. Daar is opgetekende, mediese verifieerbare goddelike genesings. Die vraag was ook gevra vir ‘n paneel van geloof-geneeshere, die antwoord was: Om die integriteit en die hart van die Evangelie te bewaar word almal nie gesond nie, die wat gesond word gebeur nooit op dieselfde manier nie, en ook nie deur dieselfde persoon nie. Die rede: Wanneer ‘n sekere persoon of metode 100% suksesvol is om elke moontlike siekte gesond te maak, is dit in die mens dat ons die persoon en die metode sal aanbid, dit sal kapitaliseer, sonder om die wonder en diepte van God te besef. Dit is baie makliker vir die mens om enige wonderkuur of middel te probeer, sonder die harde werk van gedragsverandering. Dikwels is dit die gedrag wat die siekte veroorsaak het.
Om genesing toe te skryf aan ons geloof, of tekort daarvan is ook problematies, want alhoewel geloof ‘n rol gespeel het by die meeste genesings, het die Here sommige genees sonder enige geloof van hulle kant af. As geloof die redding bring, genees ons mos onsself? Moet ons onsself dan red ook? Ek verstaan dat redding ‘n geskenk is, en dat ons geloof in God uiteindelik redding meewerk. Tog is daar baie mense wat werklik glo, en werklik in geloof selfs tot ‘n aksie oorgegaan het, en nog steeds nie genesing ontvang het nie. Om te bid vanuit die wete dat God wil altyd genees is voorwaar moeilik as dit wel nie gebeur nie. Hoekom nie? Satan? Te min geloof? Nie aangehou nie? Dan is ons die probleem. Dit bring min troos, veral as jy al jou geloof, gebede, opgebruik het om genesing te bid vir iemand vir wie jy lief is. Alhoewel ons moet glo het dit nie gewerk nie, alhoewel ons compassion moet hê, was dit skynbaar nie genoeg nie. Alhoewel ons beloftes uit die woord en profesie ontvang het, is dit nie vervul nie. Waar laat dit ons?
Genesing is inherent wie God is, die aarde en die skepping het ‘n selfgenesing vermoë. God het ons geskape om gesond te maak, en gesond te wees. Siekte en krankheid is simptomaties nie net m.b.t. ons liggame nie. Ons ekonomie is siek. Die wêreld is moreel siek. Siekte is simptomaties van ‘n hele samelewing wat van God verwyder is. As die hele samelewing die Here waaragtig dien deur te doen wat Hy sê, en alles toeëien wat Hy vir ons beskikbaar gestel het as ‘n ryk erfenis, en dan soos Jesus goed doen aan die mense om ons. Sal daar nog siekte wees?
Siekte se oorsprong is:
- Sonde
- Verkeerde gewoontes en gedrag: Mirjam (Num 12:10), Gehasi (2 Kon 5:27), Ussia (2 Kron 26:16-23) en Elimas (Hand 13:11). dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (Prov 3:8)
- Jou woorde: Die tong het mag oor dood en lewe (Prov 18:21) Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. (Prov 16:24)
- Onvergifnis (1 Cor 11:28-30; Mat 18:21-35)
- Jou denke “’n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog vreet ‘n mens op.” (Prov 14:30) ‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, (Prov 17:22)
- Nie alle siekte is a.g.v. sonde nie. (Job 42:7-8)
- Die duiwel
- Demone Mat 17:18; Mat 9:25, 42; Mat 4:35; 4:39
- Mag vd Duiwel “Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom”. (Acts 10:38)
- Gees van krankheid (Luk 13:11, 16)
- Die Here, God is soewerein:Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie.(Deut 32:39) Gen 12:17, Exo 4:11, 15:25, 1 Sam 25;37-38; 2 Sam 12:15, Deut 28:15-68, 32:39, 2 Kon 15:5, 2 Kron 21:18, 19, 26:20-21 Hand 12:22, 23; 13:8-12 asook Job 5:18.
- Indirek ander mense:Dit is duidelik dat ek kan deur iemand aangesteek word, bakteriese infeksies, ‘n bakleiery waar onskuldige mense slagoffers word. Iemand ander se sonde en oortreding kan dus ook soms die oorsaak wees van siekte en krankheid.
- Die gebroke natuur:Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe — nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het…(Rom 8:18-22) Hittegolwe, plae, droogte, tsunami’s, ens. Soms gebeur daar bloot dinge, ek struikel en val, en breek my arm.
Alhoewel dit belangrik is om die oorsaak van siekte weet, is die meer belangrike vraag hoe word ek gesond? Uiteindelik is dit God se hart dat ons gesond sal lewe: (Deut 11:26)
Wat is God se hart agter genesing
Al ooit gewonder hoekom het Jesus dikwels mens ferm vermaan om nie te gaan vertel wat met hulle gebeur het nie? Was dit dan nie die punt, dat almal in Hom sal glo nie?
Jesus het nooit enige genesing op dieselfde manier gedoen nie, maar vir Hom was genesing meer as bloot die gesondmaking van die simptome. HY wou altyd deel met die oorsaak. Daarom word die melaatse man gevra om eers na die priester toe te gaan, sodat die kwarantyn opgehef kon word, en hy weer toegelaat word om deel van die gemeenskap te wees. Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. (Mat 8:1-5)
Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat. (Mat 12:16) Hier het Jesus ‘n skare mense genees, tog kapitaliseer Hy nie op die bonatuurlike om nog meer mense te trek nie.
Jesus vra Sy dissipels, wie sê julle is ek? Nadat Petrus openlik verklaar en erken dat Hy die Messias is, word hulle beveel om dit nie oor te vertel nie. Is dit dan nie die doel dat mense sal weet dat Hy die Messias is nie? Dis tog waaroor redding gaan, dat elke mens sal glo dat hy die Christus is? Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie. (Mat 16:20)
Die verheerliking op die berg, is ‘n klinkklare bewys van Sy goddelikheid. Mense is natuurlike twyfelaars. Hoekom net ‘n paar dissipels toelaat om dit te beleef? Sou die Fariseërs, en al sy vyande nie dan tot inkeer kom, as hulle sou sien wat hier gebeur het nie? Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.” (Mat 17:9)
Een van die mees skouspelagtige wonderwerke wat Jesus gedoen het was die genesing van die doofstom man. Die man het nie net sy gehoor ontvang nie, maar God het sy spraak in een oomblik herstel. Al sou iemand se gehoor hertel, sou dit ‘n spraak terapeut maande neem om die persoon te help om te kan korrek praat. Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. (Mark 7:36)
Baie mense het gewonder oor Jesus, maar die duiwels het presies geweet wie Hy was. Is daar nie ‘n groter bewys van Sy bediening en egtheid as dat die duiwels Hom herken nie? Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” (Mark 1:25)
Jesus het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Die genesing in die geheim verrig, en toe boonop vir hom belet om dit vir iemand anders te vertel. (Mark 8:26, 30)
Die egtheid van die evangelie skrywers se getuienis, is die nuttelose inligting wat nie weggelaat is nie. Die feit dat Jesus vir hulle opdrag gee om vir die kind iets te ete te gee, het geen doel nie. Tog maak dit die stories, eg en geloofwaardig. Weereens ‘n perfekte geleentheid om mense te oortuig. Jesus maak nie gebruik om met grootheidswaan, mense te beïndruk nie. Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het. (Luke 8:56)
Die klimaks van Jesus se populariteit is toe Hy die skare kos gee. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.(John 6:14-15)
Weereens vlug Jesus van die aanstelling van mense, die aanbidding van mense. HY wil ons bewus maak dat daar iets dieper is as genesing, wonderwerke, en voedselvoorsiening. Al hierdie dinge is tydelik, maar daar is meer wat god ons wil gee. Hierdie tekens en wonders is presies dit, tekens. Dit is soos padwysers, rigtingewers na ‘n groter realiteit. Wonderwerke is inderdaad belangrik. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.(1 Cor 2:4-5)
Wat is die groter realiteit wat Jesus wou hê hulle moes raaksien? Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.” Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” (Joh 6:26-29) Jesus is die geskenk van genesing, nie die genesing op sig self nie. As ek dus Jesus ontvang is ek gesond, want ek het die Geneesheer ontvang! want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou (Exo 15:26).
Die genesing wat Christus in ons wil werk is ook meer as net die fisiese genesing. Hy wil ons hele menswees genees. Hy wil God se skeppingsdoel vir ons, in ons restoureer. “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun”(Rom 8:29) In al hierdie verhale waar Jesus mense vermaan het om nie oor te vertel nie, was mens verbaas, verstom en beïndruk met Jesus. Daar is egter 2 verhale waar Jesus beïndruk was. Die genesing van die offisier se slaaf (Mat 8:5-13; Luk. 7:1-10; Joh. 4:43-54). Hierdie man het ook genesing kom soek by Jesus, maar hy het Jesus gesien. Hy noem Jesus Here. Hy sien Jesus is ‘n man van gesag soos hy. Daarom vra Jesus om net ‘n woord te spreek. Jesus se reaksie is: Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ‘n groot geloof teëgekom nie. Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” (Mat 8”10-12) Lees hierdie vers deeglik deur. Jesus maak ‘n geskiedkundige, waterskeiding, omkeer verklaring! “Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel” Van wie praat Jesus hier? Van diegene, wat Hom sien, waarlik sien! Mense van elke volk en nasie en taal wat Jesus sien vir wie Hy werklik is, nie hom nie net sien as ‘n ‘argetipe’ onpersoonlike masjien wat mense gesond maak nie. Die ander verhaal is van die Kanaänitiese vrou. Wie Jesus eers nie wou help nie. “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond” (Mat 15:28). Sy het nie Jesus se weiering aanvaar nie, en aanhou glo.
Ons sien dat Jesus ook graag wou hê Sy dissipels moes Hom regtig sien, Hom verstaan. Is dit nie die soeke van enige leermeester, leier, of voorganger nie? Sommige is daar net vir die aansien, die geld, die roem, die posisie. Jesus wou uiteindelik hê dat hulle moes doen wat Hy doen. Hulle moes net soos Hy in die geloof wonderwerke verrig. (Luk 10:19; Mat 10:8)
Daar is drie wonderwerke waar Jesus Sy frustrasie met die dissipels wys, dat hulle nog nie sien nie.
- Jesus maak die storm stil. “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”(Mark 4:40)
- Die vermeerdering van die brood. “Gee julle vir hulle iets om te eet.”(Mark 6:37)
- Petrus is die eerste dissipel wat iets begin sien. Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy.(Mat 14:28-29) Tog begin hy vinnig twyfel toe hy na die branders kyk. Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Mat 14:31)
“The purpose of Jesus is not only to save men from their sins, but by the grace of God to begin in the souls of men that marvelous development in the nature and mind and understanding of God our Father, until by the grace of God we are able to take our place and our part in the kingdom of Jesus Christ and bear our share of responsibility.”
― John G. Lake,
Ons is dus die mees gesondste mense wanneer ons reg glo.
“enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.” (Rom 14:23) As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. (Heb 11:6) Hoeveel van ons besluite, keuses, gewoontes, is gegrondves in ‘n geloofsoortuiging? Hoe ons die wêreld sien, wat ons koop? Hoekom ons koop? Waar ons bly, en werk is alles gegrondves in wat ons glo oor onsself, God en die toekoms.
Jesus het mens geword, fisies gedemonstreer wat Hy gepreek het, en uiteindelik gesterwe vir ons sonde, om ons met God te versoen, opgestaan uit die dood, opgevaar en gaan sit aan die regterhand van God, en toe die Heilige Gees gestuur om in ons te regeer! Waarvoor wag ons? Wat op aarde moet God nog doen? Hy het alles volbring sodat ons deur Hom, dit is deur Sy bekragtiging Christus te leef in elke plek waar Hy ons roep!
As ons dus reg sien! Werklik sien! Sien wat Hy gedoen het! Wie Hy is! As ons dit daadwerklik, met oortuiging glo, sien ons die wêreld skielik in ‘n hele ander lig. Terwyl ons aanhou om presies te doen wat HY ons beveel om dit te doen, verander die lewe heeltemal vir ons. Ons sal ‘n heeltemal ander perspektief hê en ‘n nuwe houding teenoor die lewe, dinge en mense hê! Ons is gesond, na liggaam, siel en gees.
Jesus genees die hele mens.
John G. Lake het geglo dat Jesus se genesingswerk drieledig is: Hy bevry ons van boosheid, sodat ons geestelik gesond, en vol kan wees van die Heilige Gees. Ons kommunikeer en beleef verbondenheid met God deur ons gees. Tweedens, genees die Here ons siel, ons konneksie met mense. Omdat ons vrede met God gemaak het, genees die Here ons siel. Ons siel is hoe ons verbind is met die mensdom om ons. Sielsus en vrede met self en die mense om my, is genesing!
Jesus was altyd bekommerd oor die hele mens en nie net die simptome van siekte nie. Hy het dikwels eers die geestelike aspekte hanteer. Sy gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het gefokus op die basiese konflikte in haar persoonlikheid. Vir Jesus is gesondheid meer as net die afwesigheid van fisiese en geestelike siektes – dit gaan oor die hele mens.
God wil ons genees, maar meer nog: Hy wil ons moet ander genees! “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” (Eze 47:12)
Die Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees.(Ps 41:4)
Jesus Genees op verskillende maniere
God nie net besorg oor die genesing van ons liggame nie. Hy wil ook hê dat ons ’n sekere lewenswyse aanleer. Jy self is verantwoordelike vir jou gesondheid, en moet in die geloof handel, na noukeurige ondersoek. Van die 35 wondertekens wat Jesus gedoen het, was 26 genesings. In 6 gevalle is bose geeste uitgedryf.
- Bely julle sonde: (James 5:16)
- Ouderlinge salf met olie: (James 5:14-15)
- Dokters: Geneeshere is vir die siekes (Mat 9:12; Mark 2:17; Luk 5:31) Daar word na Lukas verwys as die “geliefde geneesheer” (Col 4:14)
- Mediese versorging, die barmhartige samaritaan verbind die man, en salf sy wonde. (Lukas 10:33–34)
- Alternatiewe geneeskunde: Gebruik bietjie wyn vir die ontsteldheid met die maag. (1 Tim 5:23)
- Ons teenwoordigheid bring genesing: Die blare van die boom is tot genesing van die nasies’ (Openbaring 22:2; Ps 1:2-3; Eze 47:12; Jer 17:8)
- Die Woord van God genees. (Luk 4:4)
- Toe Jesus hulle geloof sien: (Mar 2:5; Mat 9:29)
- Vergifnis: (Mat 18:34-35)
- Vereenselwig deur die Nagmaal met Sy lyding: (1 Cor 11:28–30)
- Lofprysing: “Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees”. (Psalm 103:1–3)
- Lappies en doeke wat gesalf is: (Acts 19:11-12)
- Hande Oplegging: (Mar 6:5, 13; 16:15, 17–18)
- Duiwels uitgedryf: (Mar 9:14-29; Matt. 17:14-20; Luk. 9:37-43)
- dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (Prov 3:8)
Die slotsom is: Christus is gesondheid. Wanneer ons die meeste soos Jesus is, is ons die mees gesondste mense op die planeet!
Dit is ook moontlik om ‘n gesonde lewe te lei: Wanneer al my verhoudings met God, self, mense en die natuur gesond en heilsaam is. Ek gereeld oefen, slaap, en ‘n gebalanseerde gesonde dieet volg. Werk kan genesend, en stimulerend van aard wees. My denke is soos ‘n tuin, wat ek plant, bepaal hoe ek dink, en hoe ek lewe. Om vir ander te gee, te help en te dien is genesend. Om soos ‘n kind te wees, en sommer net lekker gesonde pret te hê is ‘n wonderkuur! Jesus as die geneesheer is dus meer as goddelike genesing. Alhoewel daar wel voorbeelde is van bonatuurlike goddelike genesing, genees die Here ons op soveel manier! Deur gasvry te wees, en vir mense lekker kos te maak is genesend! Deur ‘n vredemaker te wees, en versoening te bewerk tussen mense bring genesing.
