Jesus die Lewensredder

Het die moderne mens redding nodig?

Redding van wat? ʼn Slegte verhouding? ʼn Skadelike gewoonte? ʼn Siektetoestand? Te min geld? Te veel geld? Redding van skuldgevoelens? As mens na die mensdom kyk, dan lyk dit nie asof die mensdom besef hulle moet van iets gered word nie. Welvaart en lewensverwagting is hoër as ooit in die geskiedenis. Mense wat niks het nie, soek ʼn redder. Mense wat versadig is met aardse gerief, dink nie eers daaraan nie. Die kerk probeer die wêreld oortuig hulle het redding nodig van ʼnmaalkolk van immoraliteit, van humanistiese en sekulêre wêreldbeskouings. Die post-moderne millennium generasie wil sosiale geregtigheid sien wat die fokus plaas op aardse, fisiese versorging – dikwels sonder om geestelike versorging in ag te neem. Daarenteen kan geestelik-gerigte saamtrekke en byeenkomste nie in mense se fisiese behoeftes voorsien nie. Volgens die Barna-instituut is dit ook duidelik dat wanneer mense ryker word, daar ʼn duidelike afname is in kerkbywoning, evangelisasie en ʼnleefstyl van toewyding. Skuldgevoel-preke is ook nie meer die doeltreffendste manier om mense tot die geloof te keer nie. Mense se lewens is vol, daar is nie nog ruimte vir godsdiens nie. Daar is ook ʼn duidelike wegval en wegkeer van enige formele godsdienstige instellings en magsbeheer.

Het die moderne mens redding nodig? Verseker ja, is die onomwonde antwoord! Maar die kerk sal moet herbesin hoe ons en wat ons as redding verkondig! Beter gestel: Wie verkondig ons as redding?

Vanuit ʼn suiwer skriftuurlike perspektief: Het Jesus ooit appèl gemaak dat mense Hom moet aanbid? Nee, Hy het nie. Sy appèl oor en oor was: “Volg my.” (Matt 4:19; 8:22; 9:9; 10:38; 16:24; 19:21) Verder het verskeie persone redding ontvang sonder om te bely – soos die vrou wat in owerspel uitgevang is en die sondaar aan die kruis. Verseker is belydenis belangrik, maar God soek iets dieper as net jou sondebelydenis. Baie mense sê daagliks jammer vir dieselfde sonde en verkeerde dade, sonder om te verander. Die Bybel praat die meeste van: “Hulle het tot geloof gekom.”

Die terme “neem Jesus aan” of “neem Jesus in jou hart” kom nie in die Bybel voor nie.

LAAT ONS DAN NOU DIE SAAK UITMAAK!

JESUS IS REDDING!

SIEN: Matt 1:21; Luk 1:69-75; 2:11, 28-30; Luk 19:10; Hand 13:23; 1 Tim 1:15; 2 Pet 1:1; 3:2, 18; Tit 1:4; 3:6.

Ek het vooraf besluit dat ek met julle net oor een saak wou praat—oor Jesus Christus wat vir ons op die kruis gesterf het(1 Kor 2:2).

Redding en saligheid is nie ʼn leerstelling- of ʼn versameling formules nie. Het jy Jesus? Volg jy Hom? Is jy ʼn kind van God? Is jy wedergebore? Dis kwalifiserende vrae! Mense se antwoorde op hierdie vrae is meestal vaag, en mens sien die onsekerheid in hulle oë.

Want redding en saligheid is ʼnPersoon – JESUS!

Die kerk kan jou nie red nie, ook nie jou goeie werke nie! Jy kan ook nie jouself red nie! Jy kan al die selfhelpboeke lees en nog verlore voel. Om Jesus te ken, is redding! Die onwillekeurige vraag is egter: As byna die helfte van die wêreld se bevolking sogenaamde Christene is, hoekom is daar so ʼngroot verdeeldheid in die kerkwêreld? Almal sê tog hulle glo in Jesus? So baie sogenaamde Christene se lewenstyl dra geen beeltenis van die persoon van Jesus nie.

Hoe jy Jesus sien, is die lakmoestoets van ons geloof.

DIE LAKMOESTOETS is ʼnbaie ou maar bekende toets om vas te stel wat die alkaliese gehalte van ʼnstof is sodat jy ook die teenwoordigheid van suur, al dan nie, kan vasstel.

Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê (Joh 3:13). Soos met die slang wat Moses opgelig het (Num 21:8), moes die mense net na die slang kyk om genesing te ontvang. Ons redding word bepaal deur die geskenk van sien. Maar net soos met die slang, het mense later van God se voorsiening, wat uit ʼnverhouding gebore is, ʼngodsdienstige ritueel gemaak. Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem (2 Kon 18:4).

Petrus sien: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom en sê: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie” (Matt 16:15-17).

Die sondaar aan die kruis: Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? . . . ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” En hy sê vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” En Jesus antwoord hom: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk 23:40-43).

Paulus het gedink hy doen reg. Hy het opreg geglo hy is besig om die sekte uit te roei en God daardeur te verheerlik. Paulus sien:“Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg!” (Hand 9:5).

Die Samaritaanse vrou by die graf het Jesus nie herken nie. Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat” (Joh 4:25-26).

Daarom bid Paulus vir die gemeente: Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort –aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken (Ef 1:17).

Niemand kan Jesus namens jou sien nie. Jy moet self sien, en oorweldig word deur Sy wonder.

Wat moet ek doen om gered te word?

Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Broers, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.” Petrus het nog lank aanhou preek en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!” (Hand 2:37-40)

Kom tot inkeer– Die bekende Griekse woord wat hier gebruik word is “μετανοέω” metanoéō. Dit beteken om jou posisie/uitkyk/denke te verander. ʼn Ander rigting inslaan. Soos die bekende CS Lewis eers ʼnbefaamde ateïs was, het hy sy uitkyk en siening verander, en een van die mees gesogte Christen-apologete geword. Om tot inkeer te kom, veronderstel omdraai en algehele omkeer. Om tot ʼnnuwe insig te kom. Jy sien ʼnnuwe realiteit wat jou huidige sienswyse totaal verander. Hierdie tot inkeer kom is eenmalig in terme van kind van God word, maar dit is ook ʼnreis saam met Jesus waar Hy ons weer en weer tot nuwe insigte bring soos wat ons saam met Hom die pad stap.

Maak reg met God– Sedert ʼn mens se kinderdae beweeg die meeste mense weg van God af. Ons raak van Hom vervreemd (Kol 1:12). Ons het geen vrymoedigheid om te bid of tot God te nader nie. Soos met enige vervreemding in ʼn verhouding begin mens allerhande aannames maak, en maak valse veronderstellings oor die ander persoon omdat ons nie die persoon werklik ken of kontak het nie. Later gaan sommige mense so ver dat hulle God se vyand raak. Hulle leefstyl en dade druis lynreg in teen Sy wil en plan vir hulle lewens. Hierdie selfverwoestende lewenstyl en rigting van mens se lewe eindig uiteindelik op die plek van die dood, sonder God, sonder vrede, sonder ware blywende innerlike geluk. Die lewe is vol lewensroetes: Sommige vertrou hulle intellek en rede, ander hulle geld en posisie, ander hulle fisiese krag en vermoëns. Om met God reg te maak, is om soos die verlore seun terug te stap na die Vader se huis en jou aan Hom oor te gee. Die verlore seun het vir homself gesê: Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge (Luk 15:17-19).

Glo in Jesus– Die term dat iemand tot geloof kom, word die meeste in die NT gebruik om te verduidelik hoe mense gered is (Mark 16:16; Joh 2:23; 4:39, 41; 8:30; 11:45; 12:42; Hand 9:42; 11:21; 18:8). Hulle het eenvoudig begin glo toe hulle die prediking en getuienis van die Waarheid gehoor het. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered. Soos die Skrif sê: Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie(Rom 10:9-11). Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en in u kan glo? Wat besonders doen u vir ons?” (Joh 6:28-30, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling)

ʼn Professor het my op ʼn tyd besoek. Hy was in sy middeljare en het volgens hom sy intellek totaal uitgeput maar kon steeds nie vrede vind nie. Ek vra hom toe: “Glo jy dat Jesus ’n werklikheid is? ʼn Eenvoudige ja- of nee-antwoord, nie ʼn diskussie van ‘hoekom’ en ‘maars’ nie.” Hy het my stip aangekyk, sy oë het tranerig geword en hy het afgemete geantwoord: “Ja, ek glo Jesus is ʼn werklikheid.” Op daardie oomblik het redding vir die man gekom. Later sou hy my vertel dat dit op daardie oomblik rustig in hom geword het. Hy glo! Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en in u kan glo? Wat besonders doen u vir ons?” (Joh 6:28-30)

Die geloof moet egter later in werke oorgaan wanneer ons doen wat Hy ons beveel. Dink aan die vrou wat pas op heterdaad betrap is in die daad van owerspel. Sekerlik kan mens hulle dadelik veroordeel! Jesus skryf op die grond dat die een wat sonder sonde is, die eerste klip moet gooi. Uiteindelik, toe almal weg is, sê Hy vir die vrou: Ek veroordeel jou ook nie, gaan heen en sondig nie meer nie!Haar redding begin die oomblik as sy hierdie genadewoord gehoorsaam en gaan uitvoer (Joh 8:3-11).

Wedergeboorte– Wedergeboorte is ʼn teologiese verduideliking van die redding wat God in ons bewerk. By bekering rus die onus op ons om te reageer op die verkondiging van die Woord. Wedergeboorte is ʼn bonatuurlike werking wat God in ons bewerk wanneer Hy ons Sy kinders maak (Joh 3:5; 1 Pet 1:21; 2 Kor 5:17). Hy doen die werk (Fil 1:12) en produseer die vrug van die Heilige Gees as ons nuwe karakter (Gal 5:21-22). Hoe weet mens of jy wedergeboorte deelagtig geword het? Spurgeon verduidelik dit mooi aan die hand van ʼnvark-en-katstorie. Die vark kan nie ʼnkat wees nie. Dit is in sy natuur om vuil te wees. Die kat daarenteen hou nie van vuil word nie. Net God kan ons natuur verander. Een van die eerste tekens dat ek ʼn kind van God geword het, is dat ek nie meer wil vuil wees en vuil dinge doen nie. My ingesteldheid oor kleredrag, taalgebruik, rassisme en begeertes verander radikaal. Ek sien die wêreld in ʼn heel ander lig. Sy liefde oorweldig my met ʼn nuwe vrymoedigheid, vrygewigheid en omgee vir mense.

2 Doop

Petrus se tweede opdrag was dat die mense hulle sal laat doop. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word.Hierdie was ʼnbelangrike opdrag vir die vroeë kerk. Dit is tydens die doop dat openbare belydenis van geloof afgelê word. Toe Paulus dissipels in Efese kry, toe vra hy hulle: “Met watter doop is julle dan gedoop?” Hulle is toe weer gedoop omdat hulle deur die doop van Johannes gedoop is. Soos met ʼnhuwelikseremonie word die liefde tussen die verloofdes voor getuies bevestig. Die doopseremonie is ook ʼnpragtige uiterlike simboliese handeling van wat innerlik met ʼnmens gebeur het, naamlik ʼn begrafnis (Rom 6:3-4). Om Jesus se volgeling te word, impliseer dat mens jou eie-ek en self verloën, kruisig en aflê om nou presies te doen en te lewe in gehoorsaamheid aan Jesus. Dit is dan juis die ek-mens wat weggestap het van God af. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader bekleë wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade” (Matt 16:24-27). Die self-sterf-gedagte staan sentraal tot ons nuwe lewe in Christus. Dit is belangrik vir die nuwe gelowige om ʼnmonument te hê, ʼnoomblik waarna mens kan terug verwys om jou te herinner. Jy is dood, jy lewe nie meer nie (Rom 2:20). Ons stryd teen sonde is verby, want ons leef nie meer nie (Gal 5:16, 24). Dit is ons redelike godsdiens –ons is aan Hom geoffer as lewende heilige offers (Rom 12:1; Rom 6:11).

3 Word gevul met die Heilige Gees

Toe Jesus die Samaritaanse vrou tot redding lei, wys Hy haar dat Hy die Fontein van lewende water is, want as sy van Hom drink, sal sy nooit weer dors kry nie. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel(Joh 4:14). Dis presies wat gebeur as jy in Jesus begin glo. Hy word ʼnfontein van wysheid, waarheid, rigting en nuwe waardes waarvolgens jy leef (Jer 31:31-34). Die Woord van God word vir jou begrip oopgesluit en jy begin verstaan wat jy lees. Die Woord word lewendig en werk in jou om dit nie net te hoor nie, maar ook toe te pas in jou lewe.

ʼn Paar hoofstukke verder in Johannes 7 maak Jesus die volgende aankondiging. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei. Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang(Joh 7:38-40). By redding, toe jy tot geloof gekom het, ontsluit die Here in jou ʼninnerlike fontein, maar wanneer Hy jou vul met die Heilige Gees word die fontein strome van lewende water wat uit jou uitvloei na ander. Die vervulling met die Heilige Gees en die gawes van die Heilige Gees wat daarmee gepaard gaan, is ʼngoddelike bemagtiging om sy getuie te wees (Hand 8:1). Al die gawes is gerig op bediening, die opbou en stigting van God se mense. Soos Jesus, word jy ʼnwerktuig in God se hand om mense van die waarheid te oortuig (Joh 18:37).

Johannes die Doper maak tydens sy bediening die volgende verklaring oor Jesus: Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop(Matt 3:11; Mark 1:8). Die term is nog nooit in die Bybel gebruik nie. Niemand sou verstaan wat hy hiermee bedoel nie. Jesus maak weer die opmerking by Sy hemelvaart: Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word(Hand 1:5). Die volgende hoofstuk vertel in detail van die uitstorting van die Heilige Gees. Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat(Hand 2:4). Dit was nie ʼneenmalige uitstorting net vir die eerste gelowiges nie. Later is hulle weer op dieselfde wyse aangeraak. Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig(Hand 4:31). Later sou Petrus deur ʼnvisioen gelei word om ook die heidene in te sluit in God se Goeienuusboodskap.Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het(Hand 10:44). Om gevul te wees met die Heilige Gees was ʼnvoorwaarde tot diens in die gemeente. Medegelowiges, kyk uit vir sewe mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het. Ons sal hulle dan vir hierdie bediening aanstel(Hand 6:3). Almal van ons wil ʼnlekker tyd en lewe hê, en sommige vind hierdie lekker tyd in verskillende soorte alkohol. Paulus vra dat ons nie dronk sal word van wyn nie, maar gevul word met die Heilige Gees (Ef 5:18). ʼnLekker tyd sonder ʼn“hang-over”! Soos wat ʼnmens dronk word van wyn (gevul word met wyn), kan ons wese gevul word met die Heilige Gees. Die Heilige Gees maak mens meer vrymoedig en “bold”. ʼnMens verloor jou inhibisies en is nie meer skaam om te getuig of voor mense te bid nie. Ek dank God dat redding nie net reeks besluite en gedagtes is nie, maar ʼnervaring en ʼnontmoeting met die Lewende God. Wanneer Hy jou aanraak, is jou lewe nooit weer dieselfde nie. Sommige mense se ontmoeting met God is dramaties, soos Paulus wat ʼnlig sien en van sy perd afval (Hand 9:3-9). Nie elke mens se ervaring is so dramaties nie, maar iewers in die proses van redding en kind van God word moet daar iewers ʼnbeduidende ervaring met God wees. Die Heilige Gees is ook die Een wat jou kindskap beseël en bevestig. Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee (2 Kor 1:22).

Geloofsekerheid

So baie mense wil eers reg wees en ophou met verkeerde dade, wat hulle weet God nie van hou nie, voordat hulle kom en regmaak. So stel hulle uit en kom nooit tot oorgawe nie. Ander mense werk hard om reg te lewe en reg te doen sodat hulle werke vir God aanneemlik sal wees. Hulle vergelyk hulleself met ander sogenaamde gelowiges en oordeel dat hulle ook nie altyd reg doen nie. Op die ou einde kan hulle nooit sê en erken “ek is ʼnkind van God” nie. Hulle voel nie waardig nie! Hulle doen nog te veel sonde. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word (Matt 6:33).

Ons is almal soekers: soekers na vrede en geluk, en innerlike tevredenheid. Ons soek ook na wat reg is. Wat is die regte ding om te doen of te sê. Ons wil tog hê dat daar aan ons reg gedoen word in besigheid en dienslewering. Die geregtigheid van die mens staan egter in kontras teenoor God se geregtigheid. Die grootste misdadiger regverdig sy of haar optrede op die een of ander manier. Die egbreker regverdig die verraad deur die skuld op sy of haar huweliksmaat te pak. Jesus vertel verskeie stories van mense wat gesoek het: die man wat die pêrel van groot waarde gekry het (Matt 13:45-46); die vrou wat die verlore muntstuk gesoek het (Luk 15:8); die man watʼngroot skat op ʼnland gekry het (Matt 13:44). Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word(Matt 5:6).

Om die koninkryk te vind is soos om ʼngroot skat te ontdek. Hierdie skat is ewig, onwankelbaar en onverganklik (Heb 12:28). Maar wat is die Koninkryk van God? Jesus begin Sy prediking met hierdie boodskap: Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom(Matt 4:17). Die koninkryk van God spreek van Sy heerskappy, Sy wil, Sy orde en Sy wêreld. Is dit nie die uitroep van so baie mense in hierdie tye van onheil nie? Ons verlang en hunker na God se wêreld! Sommige oorweeg selfmoord net omdat hierdie wêreld so donker en onmoontlik vir hulle geword het. Wat wel alle verstand te bowe gaan, is hoe soveel oënskynlik suksesvolle, bekende en selfs bekroonde mense selfmoord pleeg. Dit is dus duidelik dat die geveg nie noodwendig fisies is nie, maar in mens se gedagtewêreld. Sommige mense kry dit reg om tevrede en gelukkig te wees. Ander kry nooit genoeg nie en soek gedurig na nog meer. Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom 14:17).

Hier is die koninkryk nou mooi verduidelik: Die koninkryk is nie wat jy van buite af in die liggaam sit nie, maar wat van binne uit jou kom. Geregtigheid – om met God reg te wees. Vrede – nie die afwesigheid van konflik nie, maar die vermoë om te midde van konflik rustig en tevrede te wees. Vreugde in die Heilige Gees – hierdie vreugde is aansteeklik! Dit is ʼnborrelende fontein van deurentyd bewus wees van God se teenwoordigheid.

Hierdie drie ervarings is dan ook jou bewys dat jy wel reg is met God. Bekering, doop, vervulling met die Heilige Gees. Die geheim is die geskenk van geregtigheid! Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra(Jes 53:11). Disʼnskat wat ontdek is! Soos iemand wat die lotto gewen het, of ʼnstuk goud opgetel het. Dis verniet! Jy het nie daarvoor gewerk nie. Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdigdeur die verlossing wat in Christus Jesus is (Rom 3:23-25).

Geregtigheid is die geskenk van kindskap om weer soos Adam en Eva in ʼnvolle verhouding, sonder sonde, met God te wandel. Geregtigheid wys ook na God se geregtigheid – Hy is die Ewige en absolute standaard van reg. Sy Woord is reg en waar. Sy karakter is onbesproke en regverdig. Sonde is in wese ongeregtigheid, om Sy standaard te mis. Toe die jongman by Jesus kom, het hy die wet volledig nagekom en kon nie aan iets dink waaraan hy nog kortkom nie. Hy wou volmaak wees. Jesus antwoord hom: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad. En Jesus sê vir sy dissipels: “Voorwaar Ek sê vir julle dat ’n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan”(Matt 19:21-23). Dit som die tema van geregtigheid presies op: Ons beste geregtigheid is nog steeds nie genoeg nie, want ons kan nie onsself red nie. As ons sou kon, hoekom het ons dan ʼnredder nodig? Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: “Wie kan dan gered word?” Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik” (Matt 19:25-27).

Ons het dus geen ander keuse as om Sy geregtigheid as geskenk te ontvang nie. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word (Ef 2:8-11). Ons is geskape om in Sy beeld en volgens Sy wil en geregtigheid te leef, maar die eie-ek en eie-wil het gekies om ons eie ding te doen. Matteus 6:33 sê dit is van wesenlike belang om op Sy geregtigheid te fokus. Ons vertroue is nie in ons geregtigheid nie, maar in Sy geregtigheid.Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus (Rom 5:17). Sy geskenk van geregtigheid stel ons in staat om weer te heers soos Adam, en die mens se skeppingsdoel te vervul (Gen 1:28 en Rom 8:29). In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (Jer 23:6). Ons lewe dus elke dag met hierdie woorde op ons lippe: “Die Here ons geregtigheid”; “Jesus is my geregtigheid!” Die feit dat ons allereers hier begin, is ook belangrik. As ons in enige godsdiensoefening of -praktyk begin, is die fokus weer op ons geregtigheid en dan word dit dooie werke (Heb 6:1). Maar ons begin altyd eerstens, bowenal, deur Sy geregtigheid te soek en vanuit Sy volmaakte offer te leef.

Dis vanuit Sy geregtigheid dat ons

  • nou vrymoedigheid het om God te nader. (Heb 10:19; Heb 4:16)
  • in staat is om alles te doen. (Fil 4:13)
  • meer as oorwinnaars is. (Rom 8:37)
  • satan oorwin het. (1 Joh 2:13; 4:4; 5:4-5)
  • aan die slawerny van sonde ontsnap het. (Joh 8:34-36)
  • elke geestelike gawe in die hemel ontvang het. (Ef 1:3)
  • saam met Jesus in hemelse plekke sit. (Ef 2:6)

Hierdie geskenk van geregtigheid maak ons ons eie, ons eien dit vir onsself toe, en Hy werk Sy krag in ons om Sy kinders te wees. Dis die krag van die Evangelie! Jesus beveel ons nie net om reg te leef nie, Hy werk die vermoë en krag in ons om Sy wil te doen (Joh 1:12; Fil 2:13; Heb 13:21). Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo (Joh 1:12).

Dit is God se genade aan die mens, dat Hy nie net vir ons gesê het hoe om te lewe nie, Hy het ons kom wys!! Jesus is net soos ons versoek en is waarlik mens. TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word (Heb 4:14-16).

OPSOMMING

Hoe word ek gered? Glo in Jesus!

Hoe leef ek as Christen? Jy leef Jesus se lewe en voorbeeld. In jou konteks, omgewing, situasie leef jy soos Jesus.

Kom ons kyk in meer diepte na Jesus se voorbeeld. Jesus het op meer as een geleentheid verklaar dat Hy niks kan doen sonder die Vader nie. Sy manier van leef, is ook ‘n vorm van redding.  Hy toon ons die beste manier om te leef.

(Joh 4:34) Jesus antwoord hulle: My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak.
(Joh 5:19-20, 30) Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.
(Joh 5:30) Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; enmy oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vaderwat My gestuur het.
(Joh 6:38) Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
(Joh 8:28) Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.
(Joh 12:49) Ek het nie uit my eie gepraat nie,maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sêen wat Ek sal verkondig
(Joh 14:10) Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer.
(Joh 14:24) Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’nwat My gestuur het.
(Joh 14:31) Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie. Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!
(Matt 26:39) Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos ek wil nie, maar soos Ú wil.

Ons lewe volg dieselfde patroon. Soos iemand wat ʼnnuwe dieet volg en leefstylaanpassings maak.

Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar (Joh 14:21).

Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het (Joh 14:26).

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie (Joh 15:5).

Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God (Rom 8:14).

En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly (1 Joh 2:27).

Jesus se lewe van geregtigheid was dus Sy gehoorsaamheid aan die Vader.  Hierin was Hy vir ons ʼnvoorbeeld. Dit is dan moontlik om so ʼnverhouding met die Here, Skepper van die heelal, te hê! Hierdie nuwe rigting en lewensuitkyk word ʼnwonderlike pelgrimsreis van avontuur saam met Jesus. Die Heilige Gees maak die Woord lewendig en relevant in ons lewe, en leer ons hoe om te leef. Soos wat ons hoor en doen, groei ons geestelik en word verander van heerlikheid tot heerlikheid in die volheid wat Christus vir ons bestem het.

 

Similar Posts