Jesus se Aardse Pasifisme en Toekomstige Straf

“I cannot serve. I cannot do evil. I will not be a soldier of this world. I am a soldier of Christ.” St. Maximilian

“Jy moet jou vyande liefhê” en “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh 18:36) eggo deur die geskiedenis ʼn ander manier van leef, ʼn gans anderse lewensbeskouing, ʼn goddelike hantering van ons moeilikste verhoudingskwessies.

Deur die eeue is hierdie moeilike vraagstuk al op verskeie maniere gedebatteer. Ek gaan my nie uitgee as die finale antwoord hieroor nie, maar elkeen behoort self die Woord van God en gepaardgaande leesstof te ondersoek om self tot insig en wysheid te kom oor presies hoe ons die teenwoordigheid van boosheid in lewens gaan hanteer.

Die onwillekeurige vraag is:

Mag die kerk wapens opneem?

Die antwoord is nie óf nie, maar wie mag wapens opneem? Uit die ondergaande uitleg van skrifgedeeltes gaan ons sien dat dit NIE die kerk se amptelike rol of funksie is om wapens op te neem en militêre mag te gebruik nie. Christene mag wel geroepe voel om in die weermag te dien, soos enige ander beroep. ‘n verdere dieper vraag is: Kan ons onsself beskerm sonder om ‘n ander lewe te neem?  Die teenvraag is dan: Hoekom ʼn wapen aanskaf as ek nie dit kan gebruik om ʼn lewe te neem nie? Aan die ander kant moet ons nugter wees oor die boosheid van ons tyd, en toelaat die Heilige Gees ons duidelik lei. Verder is die duidelik dat dit die regering se verantwoordelikheid is om sy burgers teen wetteloosheid te beskerm (Rom 13:1-4; 1 Pet 2:13-17; 1 Tim 2:1-2). Dis immers hoekom ons belasting betaal. Christene moet ook die regering verantwoordbaar hou tot hierdie plig. Verder moet ons ook ons wetstoepassers ondersteun, vir hulle bid, en hulle op elke manier probeer bystaan.

Die kerk se rol is om vredemakers te wees (Mat 5:9), versoeners (2 Cor 5:18), mense wat vol van die Gees (Hand 1:8), en die gesag van Christus duiwels uitdryf (Luk 10:19), siekes gesond maak en die evangelie aan die armes verkondig (Mark 16:17-20). Ons verkry hierdie gesag van die Gees en nie die sterk arm van die vlees nie. (Zech 4:6). Op ʼn onlangse FB-berig is die opinies teenstrydig. Wat interessant is, is dat dié wat vir wapens stry ʼn soort arrogansie het, ʼn “kom-ek-sal-jou-wys”-gesindheid. Diegene wat al in sulke situasies was, sal vir jou sê dinge gebeur te vinnig. Selfs die geoefende skut was al onkant betrap. Ons moet meer voorkomend dink: waar ons ry, watter tyd van die nag ons op die paaie is, die veiligheid van ons huise, en ʼn gebeurlikheidsplan hê. Volgens SAPS, is die beste beskerming ‘n veiligheids hek binne die huis, wat inwoners in hulle slaapkamers beskerm sou inbrekers in die huis inkom in die nag.

My eie pa was bedag van die hoë misdaad van die plek waar hy gewerk het, en a.g.v. sy ervaring in die spoorweg polisie, ervare met vuurwapens. Hy is in Fillipie in die Kaap, helder oordag doodgeskiet in sy motor terwyl ‘n 357magnum revolver in sy hand oorgehaal was. ‘n Jaar tevore het hy ‘n burgerlike arrestasie by die einste stopstraat gedoen, toe rowers hom probeer kaap het. Hierdie keer was hy egter nie so gelukkig nie.  Dus maak ek nie die stellings ligtelik nie, ons moet meer as ooit onsself beveilig, maar ons moet ook harder werk aan voorkomende oplossings.

God gebruik regerings om straf uit te oefen:

God gebruik aardse regerings om oortreders van die wet te straf.

LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom (Rom 13:3-4).

Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer (1 Pet 2:13-17).

Toe die soldate Johannes vra wat hulle moet doen na hulle bekering, het hy hulle nie gevra om hulle diens te verlaat nie. Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling” (Luk 3:14).

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid (1 Tim 2:1-2).

Paulus herhaal Jesus se sentimente baie duidelik aan die Christene in Rome, in ʼntyd waar hulle nie kon staatmaak op die heidense regering van die dag se beskerming nie. Kyk na die onlangse film, Apostle Paul. Inteendeel, Christene is op die wreedste maniere denkbaar vervolg. Dit maak die vers net nog meer betekenisvol.

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,”sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Rom 12:17-21).

Geen boek in die NT gee duideliker riglyne as Petrus nie. Christene behoort vervolging te verwag. As lede van ʼngeestelike weermag, veg ons nie met aardse wapens nie (2 Kor 10:3-5). Ons worstelstryd is ook nie teen vlees en bloed nie (Ef 3:12).

Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees (1 Pet 2:19).

As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God (1 Pet 2:20).

Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry (1 Pet 3:9).

Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie (1 Pet 3:14),

As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen (1 Pet 3:17).

Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid (1 Pet 4:13).

Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly (1 Pet 4:14).

Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik (1 Pet 4:16).

Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen (1 Pet 4:19).

Die vroeë kerk het ook nie staat gemaak op gewapende selfverdediging nie (Hand 4:29-31; 5:40-41; 8:1-3; 9:1-2; 12:1-5).

Sommige wil die volgende vers gebruik om die aankoop van wapens te regverdig: Maar nou, wie ‘n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf(Luk 22:35-38). Dit is duidelik dat Jesus nie hier sy dissipels beveel om hulleself te bewapen nie. Twee swaarde is genoeg, antwoord Hy. Later veroordeel Hy die gebruik van ʼnswaard om die hoë priester se dienskneg se oor af te kap (Luk 22:49-51), en meer direk: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom” (Matt 26:51).

Hacksaw Ridge

Daar is die buitengewone ware verhaal van die gewetensbeswaarde Desmond T Doss wat, sonder om ʼnenkele skoot te skiet, 75 mans in Okinawa gered het tydens die bloedigste slag van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het geglo dat die oorlog geregverdig was, maar ook dat doodmaak nogtans verkeerd is. Hy was die enigste Amerikaanse soldaat in die Tweede Wêreldoorlog wat sonder ʼn wapen in die voorste linies geveg het. As medikus het Doss eiehandig die gewondes naby die vyand se gebied ontruim –hy het die vyand se geweervuur getrotseer en sy eie lewe op die spel geplaas. Hy was die eerste gewetensbeswaarde ooit wat die Congressional Medal of Honor[1]ontvang het.

JESUS PREEK EN LEEF BAIE DUIDELIK PASIFISME:

Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe (Matt 5:39).

Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (Luk 6:35-36).

Daar het ʼnsituasie ontstaan om ʼnvrou wederregtelik te veroordeel volgens haar sonde en die wet. Sy het owerspel gepleeg en is op heterdaad betrap. Jesus voltrek nie aardse oordeel nie: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh 8:1-11).God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh 3:17).

Oorwin die kwaad deur die goeie (Rom 12:21).

Jesus vergelyk iemand wat vir sy broer kwaad is met ʼn moordenaar (Matt 5:21-22).

Die goue reël: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen (Matt 7:21).

Die kerk se opdrag is duidelik: maak dissipels, doen goed, genees, onderrig, bou, voed, seën, bemagtig, versorg. Die kerk kan nie bogenoemde doen en terselfdertyd die instrumente van straf wees nie.

Hierdie pasifisme is nie ingee tot swakheid nie. Allermins! Ghandi het deur pasifisme Indië bevry van Britse Imperialisme. Daarom die spinwiel vandag nog op die vlag.

Ons veg net baie slimmer: Sien “Nonviolent Communication. A language of life. Create your life, your relationships, and your world in harmony with your values” Marshal B Rosenberg PhD. Ons wag ook nie passief vir boosheid om te realiseer nie. Elke gehoorsame gelowige demonstreer elke dag God se liefde en goedheid, waar ons ook al gaan (Hand 10:38).

JESUS SE TOEKOMSTIGE MILITÊRE REGVERDIGE OORDEEL EN REGTER OOR ALMAL SE VERKEERDHEID.

In teenstelling met Jesus se aardse pasifisme en vereenselwiging met swakheid, nederigheid, genade en liefdevolle barmhartigheid, is Sy wederkoms. Hier verskyn Hy met ʼn hemelse weermag om te kom oordeel. (Matt 26:53).

Alhoewel Jesus nie gekom het om te oordeel terwyl HY op aarde is nie (Joh 3:17; Joh 5:18-29), kom daar wel ʼn baie duidelike oordeel in die hiernamaals. Toekomstige oordeel (1 Kor 3:8-16; 2 Kor 5:10; Wit-troon-oordeel, Op 4:10-11).

Jesus waarsku dat daar definitiewe gevolge is indien die mens Hom verwerp: Hulle sal in die buitenste duisternis gewerp word (Matt 8:12; 22:13; 25:30), asook die hel (Matt 5:22; 29; 30; 10:28; 22:13; 23:33; 25:30; 2 Pet 2:4).

Jesus waarsku oor hierdie ewige straf. Daar sal verskriklike lyding wees (Matt 13:42, 13:50; 22:13; 24:51; 25:30).

Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners (Matt 8:12).

Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son (Matt 13:40-43).

So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matt 13:49-50).

Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ‘n man wat nie bruilofsklere aanhet nie, en hy sê vir hom: “Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?” Maar die man kon niks antwoord nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: “Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners” (Matt 22:11-13).

Die eienaar van daardie slaaf sal op ‘n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matt 24:50-51).

Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matt 25:29-30).

Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe (Matt 25:45-46).

Volgens Luk 17:1-3 het Jesus het aan sy dissipels gesê: “Dit is onmoontlik dat dinge wat mense laat struikel, nie oor julle pad kom nie. Groot ellende wag egter op hulle deur wie dit veroorsaak word. Dit is voordeliger vir sulke persone as ’n maalklip om hulle nek vasgemaak en hulle in die see gegooi word, as dat hulle vir een van hierdie geringes ’n struikelblok sou wees. Gee ag op julleself. As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg, en as hy tot inkeer kom, vergewe hom.” Dit is weereens duidelik dat daar ‘n baie sekere oordeel wag op die watander te na kom. Die einde van die vers is egter nog meer betekenisvol: Gee ag op julleself. As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg.  Hoeveel verkeerd laat ons toe, wat ons nie Bybels konfronteer nie? (Mat 18) Hoeveel misdaad is as gevolg van die tekort aan dissipline?

Jane Mc Gregor – “the emphaphy trap: understadiing anti-social personalities, haal die studie van Rifkin aan oor jong olifante se gewelddadigheid in die Kruger Wildtuin.  Toe hulle die 2 ouer volwasse olifante terugbring in die kudde, het die anti-sosiale gedrag verdwyn.

DISSIPLINE EN ORDE HERSTEL BEGIN IN DIE HUIS

Oordeel die wat binne is. Jy kan nie ʼnvis skoonmaak voor dat jy dit nie eers gevang het nie. Ons kan waarsku, maar ons kan nie die wat buite is straf nie. Straf is vir opvoedkundige doeleindes vir die wat binne is. In Ysland is daar ‘n dramatiese afname in tiener dwelm en alkohol misbruik verkry, toe daar strenger wetgewing en straf is vir kinders wat na 11:00nm op straat is. Kinders word ook op nasionale skaal besig gehou van 15:00 – 18:00 met sport en die kunste. [2]

  • Die Bybel leer nie dat ons nie mag oordeel nie, maar dat ons moet oppas dat ons verkeerd oordeel (Matt 7:1; Luk 6:37, 38, 41, 42). BROEDERS, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie (Gal 6:1). Sien ook: 1 Kor 4:21; 2 Tim 2:25.
  • Oordeel sonder direkte konfrontasie:Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Die wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ʼndader van die wet nie, maar ʼnregter (Jak 4:11).
  • Jy wat ander oordeel, doen dieselfde dinge: Rom 2:1-8. “You become what you judge.”
  • Oordeel ander sonder om die verkeerde in jouself te erken (Matt 7:1).
  • Moralisering: veralgemeen.
  • Etiketteer: name noem (Matt 5:21-24).
  • Vergelykings: Niemand kan die toets wen nie.
  • Te vinnig oordeel: Nie al die inligting hê nie (Pred 7:9).
  • Iemand sonder regspraak oordeel (Matt 5:22).
  • Demoniseer: Maak iemand net sleg, boos.
  • Blameer: Verontskuldig myself terwyl ek ander blameer.
  • Forseer en beheer: reg tot eie besluit.
  • Stemtoon: hart se ingesteldheid.
  • Vuil taal (Kol 3:8).

Die NT-insident van ʼnman wat met sy stiefma soos man en vrou saamleef, word deur Paulus beoordeel.  Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie —  dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan —maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit (1 Kor 5:6-13).

Die uitkoms van hierdie harde straf word later gebalanseer toe Paulus sy volgende brief skryf. As iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy hartseer maak nie, maar vir julle almal, of, om nie te oordryf nie, ten minste ‘n deel van julle. Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Daarom vra ek julle: Bewys liefde aan hom(2 Kor 2:5-8). Hier word die skuldige vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Dit is met dien verstande dat die persoon sy sonde bely het, en dit gestaak het. Tog glo ek dat dit ook ʼnmaatstaf vir ons is, dat die kerk se aardse tug tydelik is. Die straf en tug wat die kerk toepas, is om iemand te beweeg van punt A na punt B. Hierdie dissipline word nie net lukraak op almal toegepas nie. Straf gebeur altyd direk binne ʼnverhouding. Daarom die wyse raad in Judas: Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is (Judas 22).

Die NT is baie duidelik daaroor dat ons mense wat hulle aan die volgende oortredings skuldig maak uit ons gemeenskap moet verwyder, hulle soos heidene moet behandel, nie saam met hulle moet kuier of eet nie. Net soos in die OT, het hierdie mense se gedrag hulle skuldig gemaak aan die verontagsaming van die familie, die gesin.

Die Bybel se definisie van reg en verkeerd, dié wat regverdig is en dié wat veroordeel word, strek verder as net dade en lewenstyl. Daar is ʼn definitiewe BINNE- en BUITE-narratief wanneer dit gaan oor God se verlossingsplan met die mens. Die tuin van Eden, die Ark, die Rooi See, die besnydenis, die bruilof, die maagde, die skape teenoor die bokke, is almal deel van die binne- en besliste buite-narratief. Gehoorsaamheid uit die geloof en, volgens die NT, die besliste vraag: “Is jy beklee met Jesus se geregtigheid?” is die duidelike voorwaarde tot insluiting. Die wat BINNE is, vorm een familie, liggaam, kerk, bruid, Sion en nuwe Jerusalem. Die insluiting gebeur deur wedergeboorte, deur die geloof in Christus se volkome versoeningswerk aan die kruis.

Daarom is daar definitiewe tug- en strafmaatreëls wanneer binne-mense hulle skuldig maak aan die volgende sondes en oortredings:

1 Kor 5:11-13 –  hoereerders, gierigaards, rowers of afgodedienaars;

Rom 16:17 –wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het;

Tit 3:10-11 –ʼn man wat tweedrag verwek;

2 Tess 3:6 –wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie;

2 Tess 3:14-15 – iemand wat aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie;

1 Tim 6:3  –as iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie;

Tit 1:10-11 –wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is.

BYBELSE VORME VAN STRAF:

ʼn Deel van die probleem is dat, al het ons die beste planne en wette in die wêreld, die mens ʼn geneigdheid na sonde, gebrokenheid en selfvernietiging het. Terwyl ons nog in hierdie dispensasie leef, moet ons verlief neem met die boosheid wat in elke mens sluimer. [i]

Soos Billy Grahamsê: “Die mens met al sy moderne uitvindsels kon nog nie die morele sonde-probleem van die mens oplos nie.” “The depravity of mankind is the most undeniable empirical fact, but intellectually most resisted” –Ravi Zacharias. Selfs die selferkende ateïs en vorige president van American Psychology, Hobart Mowrer (January 23, 1907 – June 20, 1982), erken dat deur die mens se verdorwenheid as siekte toe te reken, ons ten diepste die mens onthef van aanspreeklikheid. Mense wat nie aanspreeklik of verantwoordbaar is nie, voel hulleself geregtig, “entitled”, om met die sondepad van verwoesting voort te gaan.

Is tronke die Bybelse manier om gedragsaanpassings te maak?

Is tronke nodig as die Bybelse roete van straf toegepas sal word? Daar word tans ʼn wêreldwye debat gevoer oor die funksionering en effektiwiteit van tronke. ʼn Federale regter Prosecutor and Deputy Commonwealth Attorney Alejandra Rueda het in 2017 besluit om vandalistiese, rassistiese, aggressiewe jeugdiges op ʼnander manier te vonnis as om hulle na ʼn aanhoudingsentrum vir jeugdiges te stuur. Dit was duidelik uit die graffiti teen die muur dat hulle geen benul gehad het wat die swastika en ander rassistiese simbole beteken nie. Sy het ʼn opvoedingsgeleentheid gesien. Hulle moes 12 boeke per jaar lees en oor elkeen ʼn breedvoerige opstel skryf. Boeke oor slawerny, die Joodse Holocaust en geweld teen die mensdom, byvoorbeeld My name is Asher Lev deur Chaim Potok, The Kite Runner deur Khaled Hoseini, The Color Purple deur Alice Walker, I Know Why the Caged Bird Sings deur Maya Angelou,  en Cry The Beloved Country deur Alan Paton.[3]

Die slagoffer is direk betrokke by die strafgee:

Die Bybelse manier om teen oortreders op te tree binne die sirkel van die gesin, familie en stam. Dit is presies wat restitusionele geregtigheid probeer vermag. Om die oortreder daartoe te bring om die slagoffers direk in die oë te kyk (Matt 18:1-31; Luk 17:1-5). Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom (Luk 17:3).

Sonde is kommunaal, en kommunale straf:

Die neerlaag teen Ai en die straf van Akan (Jos 7:1-5). Sy hele familie is saam veroordeel (Jos 7:22-26). Sonde is toegereken tot in die derde en vierde geslag (Eks 20:5; 34:7; Deut 5:9-10). Die grootste motiveerder vir geweld of oorlog is ter wille van die veiligheid van die gesin en familie. Die teendeel is dat die moontlike straf en lyding van my gesin, as gevolg van wat ek verkeerd gedoen het, ʼn baie sterk afskrikmiddel is vir voortdurende oortredings. So het ʼn sekere maatskappy beter resultate verkry toe hulle foto’s begin plaas het van kinders wat ly a.g.v. van rook.

Elkeen toerekenbaar vir sy eie sonde:

Deut 24:16; 2 Kon 14:6; Jer 31:29-30; Eseg 18:1-4; Eseg 18:20.

Restitusie:

Verder moet die oortreder die verkeerde regmaak volgens die ooreenkoms wat met die slagoffer bereik is. Indien jy iets van iemand gesteel het, moet jy dit terugbetaal (Eks 22:1-4; Eks 22:7; Lev 6:4-5). As jy nie kon betaal nie, is die persoon as slaaf verkoop om die skuld te betaal (Eks 22:1).

Niemand gaan aan straf ontkom nie.

Sonder enige uitsondering sal hulle wat verkeerd doen, inderdaad daarvoor boet (Kol 3:25).

Doodstraf:

Doodstraf word gesien in die lig daarvan dat iemand se dade die dood verdien.

Sonde teenoor God:

Misleiding om valse gode aanbid (Deut. 13:6-10);

God se naam ydel gebruik, laster (Lev 24:13-16, 23);

Heksery (Lev 20:27);

Die Sabbat breek (Eks 31:14-15; Num 15:32-36).

Oortredings teenoor mekaar:

Moord (Gen 9:6; Eks 21:12);

Ontvoering (Eks 21:16; Deut 24:7);

Rebellie teenoor ouers (Eks 21:15,17; Deut 21:18-21; Lev 20:9-21; Matt 15:4);

Rebellie (Deut 17:12; 21:18-21).

Seksuele oortredings:

Egbreuk (Lev. 20:10; Deut 22:22);

Bloedskande (Lev 20:10-17);

Verkragting (Deut 22:25-27);

Homoseksualiteit (Lev 20:13).

Agter al die oortredings is ʼn totale miskenning van die welstand, vrede, welvaart en samesyn van die groep. Die lewe van die EEN staan teenoor die lewe van die FAMILIE/VOLK. Ek het dus my eie behoeftes bo dié van die groep gestel. Ek is belangriker as die familie.

Dis belangrik om daarop te let dat die metode van straf, naamlik steniging, baie persoonlik was. Die slagoffer is direk betrokke by die straf. Ons kan nie straf of oordeel aanskuif op ʼn ander nie. Sonde impliseer ʼn direkte oortreding teenoor iemand en moet direk herstel word. Die van aangesig tot aangesig beginsel is dus deurslaggewend.

GESAG WAT VAN DIE BOSE (ONDER) KOM.

Die heerskappy van boosheid loop deur die Bybel –ʼnbebloede lyn van geweld, verwoesting, moord, magsug, verdrukking. Die oproep tot vredevolle oplossings word van die begin van tyd af teengestaan deur ʼnsataniese drie-eenheid: 1) Lucifer, satan, die draak, geestelike boosheid, demone; 2) nasionale selfbeskikking ten koste van ʼnander, die dier uit die see; 3) die dier uit die aarde, godsdienstige valse wêreldbeskouings, die anti-chris, valse profeet.

Adam en Eva se ongehoorsaamheid teenoor God lei tot die eerste moord en selfbeskikking van die mens teenoor ʼnander en die daarstel van ʼn valse aanbidding van valse gode.

Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om ’n geweldenaar op aarde te wees. Hy was ’n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ’n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. En die begin van sy ryk was Babel (Gen 10:8-10).

Die klimaks van selfbeskikking word vertel deur die verhaal van die toring van Babel: Kom ons bou vir ons ‘n stad met ‘n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ‘n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie (Gen 11:4). Hierdie sataniese soeke na heerskappy oor die mens, word talle kere in die Bybel herhaal: Die boek Rigters illustreer hierdie punt mooi: sewe siklusse van sonde, slawerny, petisie, redding en stilte.

Toe die Joodse nasie tot stand kom, gebruik God verskillende goddelose koninkryke om Sy kinders te oordeel: Egipte, Assirië, Babilonië, Persië, Grieke, Romeine.

Hierdie oordeel bring ons oor onsself omdat God se kinders wegdraai van die Here af en gevolglik ongehoorsaam raak aan Sy gebooie. Seën as ons Sy gebooie uitleef, en straf indien ons wegdraai. Seëninge en strawwe (Deut 28).

Die sataniese drie-eenheid geopenbaar:

Satan kom net om te steel, te slag en uit te roei (Joh 10:10). Sy planne is aan ons bekend. Hy het nog nooit van plan verander nie. Jesus is vermoor deur hierdie sataniese drie-eenheid. Die Romeinse Ryk en die godsdiens van die dag.

Openbaring 13: Die dier met die 10 horings, met die gesig van die Luiperd, Beer en die Leeu:

Die see is dikwels ’n simbool van die nasies van die aarde. Die kerk as nasie van God (1 Pet. 2:9) staan teenoor die nasies van die aarde. In die nasie van God werk die Gees van God, maar in die nasies van die aarde werk die gees van die draak. Die regerings van die nasies staan teenoor die regering van God. “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps. 2:1-3). Tien horings – tien krone (13:1). Die dier het volledige mag (tien horings en tien krone). Dit verteenwoordig die regerings van die aarde. Dit strek van Nimrod in Genesis 10-11 tot by die regerings van vandag. In 1 Samuel 8:7 sê God vir Samuel: “Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.”

In Daniël 7 sien Daniël ’n soortgelyke gesig. Hy sien die see in beroering en vier groot diere daaruit opklim (Dan. 7:1-3). Die een soos ’n leeu, die ander soos ’n beer, die derde soos ’n luiperd en die vierde dier “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad” (v. 7).

Die dier uit die AARDE:

Twee horings soos ’n lam (Op 13:11). Net soos die eerste dier eerder ’n sisteem is as ’n individu, so is die dier uit die aarde ook eerder ’n sisteem en nie ’n individu nie. Hy het slegs twee horings en nie tien soos die dier uit die see nie. Dit is ’n aanduiding van sy ondergeskiktheid aan die dier uit die see. Hierdie dier het beperkte magte. Hy lyk soos ’n lam, maar as hy praat, praat hy met die stem van die draak.

Die draak-lam se modus operandi en doel word duidelik uitgespel: “En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid.

Die draak-lam het hoofsaaklik ’n godsdienstige rol om te vervul. Hy maak daarop aanspraak dat hy die waarheid verteenwoordig en onskadelik is, maar sy spraak gee hom weg as gesant van die Satan. In ʼnsekere sin is die draak-lam ’n antichris of pseudo-christus. Hy doen hom voor as ’n alternatiewe of “ander” Christus.

In 95 n.C. het vals godsdienste die mense bedwelm in samewerking met die keiserlike beamptes. Die keiser is aanbid met groot seremonie onder toesig van die regeringsbeamptes. Die draak-lam rokkel die mense se fokus van God af en plaas dit op die wêreldstelsel van die dag. Dit is nie ongewoon om die vergodsdiensing van regerings te sien nie. Die Britte sing: “God save our gracious Queen / Long live our noble Queen / God save the Queen / Send her victorious / Happy and glorious / Long to reign over us / God save the Queen.” Die Russe verwys na “Holy Mother Russia”. Om ’n Slawiër te wees, is om Russies-Ortodoks te wees. Om ’n Slawiër te wees en nie Ortodoks nie word gesien as verraad teenoor die Slawiese kultuur. In die ou Suid-Afrika het ons gesing: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika.” In Ierland is die oorlog tussen die Protestante en Katolieke ’n diepgewortelde bitterheid. Die draak-lam het rooi kruise geverf op die skilde van soldate in die Middeleeue en die regerings ondersteun terwyl hulle die verskriklikste wreedhede gepleeg het. (Riekert Botha, Openbaring ontsluit, ‘n verrassende perspektief op die laaste boek in die Bybel.)

GESAG WAT VAN GOD (BO) KOM:

Anders gestel: Daar is ʼnmag en outoriteit wat van God afkomstig is: Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig(Fil 4:8).

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23).

Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God (Kol 3:2-3).

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jak 3:17-18).

Die uitdaging van ons tyd is om in die volheid van hierdie goddelike wysheid en insig te leef. Sommige maak die afleiding dat pasifisme passief is, maar dis allermins! Dit kos meer energie, moeite en ongerief om ʼnverkeerdheid reg te leef! Martin Luther King het gesê:

‪Hate is a cancerous disease which distorts the personality and scars the soul. To return hate for hate only intensifies the existence of hate in the universe. Hate seeks to annihilate rather than convert. It destroys community and makes brotherhood impossible. We must learn that it is possible to stand up courageously and positively against an evil system and yet not resist it with physical weapons and inner feelings of hatred. (Martin Luther King)

“Do all the good you can, by all the means you can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times you can, to ALL THE PEOPLE you can, as long as ever you can.” -Unknown

 

BRONNE

[1]https://en.wikipedia.org/wiki/Hacksaw_Ridge

[2]https://www.theatlantic.com/health/archive/2017/01/teens-drugs-iceland/513668/

[3]https://www.bbc.com/news/stories-47936071

Zimbardo, Phillip. The Lucifer Effect – How good people turn evil.

Marshal B Rosenberg PhD. “Nonviolent Communication” A language of life. Create your life, your relationships, and your world in harmony with your values.

Jamin Goggin and Kyle Strobel, The Way of the Dragon or the Way of the Lamb: Searching for Jesus’ Path of Power in a Church that Has Abandoned It

Walter Rauschenbusch (1861- 1918) A Theology for the Social Gospel (1917)

Howard Thurman (1899-1981) Jesus and the Disinherited (1949)

André and Magda Trocmé (1901- 1971, 1901-1996) Jesus and the Nonviolent Revolution (1961)

Hélder Câmara (1909- 1999) Spiral of Violence (1971)

William Stringfellow (1928-1985) An Ethic for Christians and Other Aliens in a Strange Land (1973)

Dorothee Sölle (1929- 2003) The Silent Cry: Mysticism and Resistance (1997)

Lisa Sowle Cahill (1948- ) Love Your Enemies: Discipleship, Pacifism, and Just War Theory (1994)

Traci C. West (1959- ) Wounds of the Spirit: Black Women, Violence, and Resistance Ethics (1999)

George Kalantzis, Caesar and the Lamb: Early Christian Attitudes on War and Military Service

SIM, David C.. The pacifist Jesus and the violent Jesus in the Gospel of Matthew. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, [S.l.], v. 67, n. 1, p. 6 pages, apr. 2011. ISSN 2072-8050. Available at: <https://hts.org.za/index.php/hts/article/view/860/1416>. Date accessed: 20 apr. 2019. doi:https://doi.org/10.4102/hts.v67i1.860.

https://www.missioalliance.org/weapons-violence-and-peace-according-to-a-fourth-century-bishop/

https://www.paxchristi.net/sites/default/files/documents/4-our_nonviolence_tradition.pdf

https://www.desiringgod.org/articles/should-christians-be-encouraged-to-arm-themselves

Similar Posts