Ontwaak Tot Die Ware Jesus Christus

Bud Collyer, aanbieder van ‘Tell the Truth’, 1956

In 1956 was daar ’n televisieprogram, To tell the truth. Vier bekende persoonlikhede moes vier onbekende persone leer ken. Almal met dieselfde naam. Net een van die vier was die egte, werklike houer van die naam. Die ander drie persone was akteurs. Aan die einde van die spel moes die werklike persoon opstaan – dikwels tot almal se verbasing. 

As Jesus vandag moes leef, waar sou Hy bly? Hoe sou Hy lyk? Waarmee sou Hy Homself besig hou? Toe Shane Claiborne en van sy teologiese vriende hulleself hierdie vraag vra, het hulle in Kolkata, Indië, by Moeder Teresa beland. In 1950 stig Moeder Teresa die Missionaries of Charity, ’n Rooms-Katolieke gemeente wat meer as 4 500 nonne gehad het en teen 2012 in 133 lande aktief was. Die bediening bestuur huise vir mense wat sterwend is aan MIV/vigs, melaatsheid en tuberkulose. Hulle stig ook sopkombuise, apteke, mobiele klinieke, kinder- en gesinsadviesprogramme, sowel as weeshuise en skole. Lede neem geloftes van kuisheid, armoede en gehoorsaamheid, en bely ook ’n vierde gelofte – om “heelhartige gratis diens aan die armstes van die armes te verleen”. In Shane Claiborne se boek, The Irresistible Revolution, skryf hy van sy reis om Jesus onder armste van die armstes te herontdek. [1]  

Die baie name van God is mense se refleksie op en verering van wat God vir elkeen gedoen en beteken het. Hagar, Sarai se slavin, noem God El-Roi – die God wat sien (Gen 16:11-14); Abraham – Jehova Jireh – die God wat voorsien (Gen 22:13, 14); Moses en Josua verslaan die Amalekiete – Jehova Nissi – God ons banier (Eks 17:15, 16); Die bitter water van Mara word drinkbaar – Jehova Rapha – die God wat genees (Eks 15:25-27).  

Die werklikheid van Jesus is eenvoudig: 

As jy Hom ontmoet, sal jy nooit weer dieselfde wees nie! 

’n Ontmoeting met Jesus is egter meer as net kennismaking. Dit is soos om vanuit jou slaap in ’n vreemde omgewing wakker te word en bewus te word van ’n gans anderse wêreld. Wanneer jy Hom sien, sien jy Hom orals. Hoe meer jy Hom sien en Hom leer ken, hoe meer verander jou manier van sien: Jy sien jouself en die hele wêreld nou in ’n ander lig.  

Die gevaar wat godsdiens deur die eeue betref, is dat ons by verstek weer ons eie afgode gaan maak. Van die 293 keer waar die woord afgod in die Bybel voorkom, is 39 keer in die NT. Afgodery word elke keer ingesluit in die lysies van sonde en werke van die vlees in die NT (Gal 5:20: Kol 3:5). Dieselfde kan selfs met Jesus gebeur: 

Ons sien Jesus 
deurdat die Skrif vir ons oopgaan, 
of omdat ons sy liefde beleef d.m.v. ’n volgeling van Jesus wat gehoorsaam was,
of deurdat ons tot oortuiging kom van ons eie sonde, 
of omdat ons een of ander bonatuurlike belewenis gehad het, 
of omdat ons aanvaarding voel in ’n gemeente of kleingroep,
of omdat Hy ons genees het, 
of bevry het van boosheid, 
of omdat Hy ons gehelp het om ’n stukkende verhouding te herstel,
of omdat ons onsself in Hom ontdek het! 

Dis alles Jesus se werk. Ons moet net oppas dat ons nie dink dat ons belewenis van Jesus al is wie Jesus is nie. Daarom is Jesus se oproep dat ons in Hom moet glo, nie om Hom te aanbid nie. Om Hom te volg en nie net te “like” nie. Jesus is ’n persoon, Hy is dinamies, Hy is paradoksaal, Hy is God onmeetbaar, Hy is misterieus! Daarom kan niemand alleen ’n greep op Hom kry en namens Hom praat nie. Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken (1 Kor 13:12). 

Sedert ons begin het met die Dagbreek-radioprogram elke weeksoggend om 6:00-6:45 het ons verskeie diverse aspekte van Sy persoon begin ontdek: die ewigheid, bonatuurlike, mens-mens, revolusionêr, pasifis, bediende, alleen, lydende, sagmoedig maar met gesonde humeur, redelike, ridder Jesus.  Om die waarheid te sê, ons het nou alreeds 30 temas oor die persoon van Jesus bespreek! 

“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”(Mark 8:29). 

Dit is van wesenlike belang, van ewige-lewe wesenlike belang, dat elke mens sal seker maak hulle volg die werklike Jesus.  

Oh, come, come, come into the presence of Jesus and wait on Him, and He will reveal Himself to thee. I pray God that He may use His precious Word. It is simply the presence of the Lord Jesus that is the secret of the Christian’s strength and joy. Instead of indwelling sin, an indwelling Christ conquering it; instead of indwelling sin, the indwelling life and light and love of the blessed Son of God.

Andrew Murray, in “Jesus Himself” 

Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: “Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?” Dan sal Ek openlik vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree”(Matt 7:21-23).

Godsdiens kapitaliseer op die handelsnaam van Jesus, maar sonder die Persoon Jesus. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af(2 Tim 3:5). Die Antichris- of valse-Jesus-narratief was ’n wesenlik probleem in die Jesus-beweging se ontstaan, maar nog meer so vandag! (Matt 24:24; Mark 13:22; Mark 3:29; 1 Joh 2:22; 4:3; 2 Joh 7). 

Jesus is soos ’n vuurtoring wat elke nou en dan, soos die golwe jou op en af slinger, op die horison blink. Dan sien jy die vuurtoring, dan sien jy net reusagtige golwe. Jesus is soos ’n lineaal, ’n rigsnoer, ’n waterpas wat jou lewe reguit trek. Jy kan Hom nooit net neersit en dink jy kan aanhou bou sonder om Hom gereeld te gebruik nie. Hy is soos die musiekinstrument-instemmer wat gereeld gebruik moet word om seker te maak ons is nog op die noot. 

Hierdie self-sien is dus onontbeerlik in elke gelowige se bestaan: . . . die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof(Heb 12:20). 

Die Samaritaanse vrou 

Die vrou sê vir Hom: “Here, ek sien dat U ’n profeet is”(Joh 4:19).

Die sondaar aan die kruis

En hy sê vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom”(Luk 23:42).

Johannes

Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo(Joh 20:8).

Thomas

Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het(Joh 20:29).

Die Emmaüsgangers

Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”(Luk 24:31).

Paulus 

“Wie is U, Here?” En die Here antwoord: “Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: “Here, wat wil U hê moet ek doen?”(Hand 9:5-6).

Petrus

Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is(Matt 16:15-16).

Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees (1 Joh 1:1-4). 

Johannes 

Openbaring 1:10-18

Oh, come, come, come, into the presence of Jesus and wait on Him, and He will reveal Himself to thee. I pray God that He may use His precious Word. It is simply the presence of the Lord Jesus that is the secret of the Christian’s strength and joy. Instead of indwelling sin, an indwelling Christ conquering it; instead of indwelling sin, the indwelling life and light and love of the blessed Son of God.

Andrew Murray, “Jesus Himself” 

Godsdiens kapitaliseer op die handelsnaam van Jesus, maar sonder die realiteit van die persoon Jesus. 

Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: “Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?” Dan sal Ek openlik vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”(Matt 7:21-23)

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.(2 Tim 3:5) 

Sukses sonder Christus is arrogansie.

Kerk sonder Christus is dooie godsdiens.

Onderwys sonder Christus is leë filosofie. 

Genesing metodes sonder Christus lei na verslawing.

Menslikheid sonder Christus is humanisme. 

Wette sonder Christus is wetsverering.

Gebed sonder gehoorsaamheid aan Christus is heksery. 

Voorspoed sonder Christus is materialisme. 

Eenheid sonder Christus is ’n mensgerigte Babel.

Visie sonder Christus is ambisie.

Werk sonder Christus is slawerny.

Aanbidding sonder Christus is afgodsdiens.

Deur die kerkgeskiedenis kan mens duidelik die op-en-af-fluktuasie van tye wanneer ons wel op die noot was en tye wanneer ons vals was, raak hoor en raaksien.  

Wanneer mense Jesus regtig ontmoet het en Hy vir jou ’n werklikheid is: 
is jy vry van verslawing en destruktiewe lewenstyle en gewoontes; 
is daar eenheid en ’n dryfkrag om Sy liefde aan ander oor te dra;
wil jy bid en gaan die Skrif vir jou oop; 
is jy bereid om vervolging te verduur; 
is daar ’n innerlike sin vir reg dink en reg doen; 
kan jy doen wat Hy gedoen het; 
is daar ’n trekkrag na deel wees van die geloofsgemeenskap;
is daar begeerte om te groei en teregwysing te ontvang;
is jy nie meer skaam vir Hom nie. Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo(Rom 1:16). 

Die lys kan nog aangaan. Maar dis eenvoudig: Waar Jesus lewe en regeer verander Hy ons elke dag. Hoe meer ons Hom leer ken, hoe meer leer ons onsself ken (Kol 3:2). Watchman Nee leer in sy boek, Christ the sum of all things[2], dat ons nie sonde oorwin, verkeerd doen, die merk mis deur een of ander metode nie. Jesus is die metode! Daarom bly ons by Hom, volg ons Hom, sien ons Hom en word ons verander van heerlikheid tot heerlikheid! (2 Kor 4:18). 

Jesus Se Opstanding

Sommige leer dat Jesus nooit regtig geleef het nie, maar een of ander pseudo-argetipe-skyn Jesus was. Ons het die mens-mens-wees van Jesus al mooi deurgetrap in Dagbreek. Dis juis Sy menswees wat ons inspireer, hoop gee en anker sodat dit vir gewone mense moontlik is om soos Jesus te leef.  

O.J Simpson

Die tweede aanval teen ons geloof is die bewering dat Jesus nie werklik opgestaan het nie. In 1995 het O.J. Simpson tereggestaan op die moorde van sy eksvrou en haar vriend. Dit word onthou as die mees gepubliseerde kriminele verhoor in die Amerikaanse geskiedenis. Dit blyk dat al die getuienis op O.J. se skuld gedui het. Die belangrikste bewysstuk wat die vervolging se saak ontrafel het, was ’n bloedbevlekte handskoen wat op die misdaadtoneel gevind is. O.J se hoëprofiel advokaat, Johnnie Cochran, het aan die jurie gesê: “As dit nie pas nie, moet u vryspraak doen!”  Simpson is op grond van redelike twyfel uiteindelik vrygespreek. Baie beskou dit as een van die grootste ongeregtighede in die geskiedenis van strafregtelike verhore. 
Die opstanding van Jesus Christus is die kernbewys en anker van ons geloof. As Jesus nie opgestaan het nie, is ons geloof sinloos en bloot mooi morele beginsels. Lees die hele 1 Korintiërs 15: As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes (1 Kor 15:17). Selfs in hierdie hoofstuk, en die manier waarop Paulus hieroor skryf om as te ware die vyande van ons geloof ammunisie te gee, wys op die vastigheid van sy eie oortuiging. Hy was immers ook eers ’n vervolger van die volgelinge van die Weg.  

Dit is die een aspek van ons geloof waar die getuienis vir Sy opstanding bloot oorweldigend en onteenseglik is. Dis die een aspek waaroor ons nie hoef rond te trap en te wonder nie! 

Jesus voorspel Sy opstanding: 

Jesus het verskeie kere Sy volgelinge openlik vertel dat Hy tot die dood veroordeel gaan word en dan op die derde dag gaan opstaan (Matt 17:23; Mark 8:31; 10:34; Luk 9:22). Dit is soos Bono, die bekende sanger van U2, sê wanneer hy C.S. Lewis aanhaal wat ook eers ’n ateïs was maar wat tot inkeer gekom het: “Christus was óf ’n leuenaar óf ’n waansinnige óf die Here.” Die feit dat Hy openlik Sy einde voorspel en dan presies doen wat Hy gesê het, is die krag van die evangelie.  

Jesus se dissipels se twyfel verander na geloof:

Sy eie dissipels moes eers oortuig word, want hulle twyfel aan die begin word nie verbloem of weggesteek nie. Hy sê toe vir hulle: Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?(Luk 24:38).When they saw Him, they worshiped Him; but some doubted(Matt 28:17). Wanneer volgelinge ’n leuen fabriseer, oordoen hulle die positiewe en swyg oor die foute, veral hulle eie broosheid. 

En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het (Hand10:39-41).

Die dissipels se getuienis is deurslaggewend omdat hulle nie finansieel sou baat of posisies van aansien deur die opspraakwekkende getuienis sou kry nie. Inteendeel, hulle en hulle geliefdes en familie is almal vervolg. Hulle getuienis is ook ’n teenspraak teen hulle hele opvoeding, kultuur en selfs nasionaliteit (Joh 2:22; Luk 24:33-35; Joh 20:8, 18, 26-28; Hand 2:32; 3:15; 4:33).

Jesus verskyn aan verskillende mense: 

Jesus het aan verskeie mense verskyn: Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.(Ac 1:3)

1.  Maria Magdalena eerste persoon wat Hom lewendig sien – John 20:10-18

2.  ander evangelie vertel Maria Magdalena, en die ander Maria was bymekaar – Matthew 28:8-10

3.  Kleopas en ander dissipel oppad na Emmaus, in Luke 24:13-32

4.  Die 11 Dissipels Luke 24:33-49

5.  Die 10 dissipels sonder Thomas in John 20:19-23

6.  Die 11 Dissipels Thomas bely sy ongeloof in John 20:26-30

7.  Die 7 dissipels wat gaan visvang het John 21:1-14

8.  Jesus verskyn aan die 11, op die Olyfberg die hemelvaart Matthew 28:16-20; Luke 24:50-52;  Acts 1:4-9

9. Verskyn aan Petrus Lk 24:34; 1Co 15:5

10. Paulus Ac 9:3-5 pp Ac 22:6-8 pp Ac 26:12-15; 1Co 15:8; 

11. Meer as 500 mense 1Co 15:6 

12. Jakobus Jesus se eie broer wat eers nie geglo het nie 1Co 15:7

Die onteenseglike getuienis van die NT 

Wanneer jy ’n leuen fabriseer, los jy nie ammunisie wat later teen jou gebruik sou kon word nie. Dis ook ’n belangrike feit dat die vroue se getuienis nie weggelaat is nie, alhoewel hulle getuienis in Bybelse tye nie gewig gedra het nie. Die verskille in detail, soos die hoeveelheid engele en wie eerste by die graf was, word in die evangelies net so gelos.  

Die evangelies is geskryf in die tyd waar die hoorders van die evangelies self ook getuies was van wat gebeur het. Lukas stel dit meer direk: Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om ‘n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is(Luk 1:1-4). 

Die dood en opstanding word ook in die Ou-Testamentiese geskrifte voorspel: 

U gee my nie oor aan die dood nie.U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie (Ps 16:10). 

Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie(Jes 50:6). 

Lees die hele Jesaja 53. 

Buite-Bybelse bronne:

“Daar was in hierdie tyd Jesus, ’n wyse man, as dit geregverdig sou wees om hom ’n man te noem, want hy het wonderlike dade gedoen, ’n leermeester van mans wat die waarheid met vreugde ontvang. Hy het baie Jode na hom toe aangetrek, en ook baie Grieke. Hierdie man was die Christus. En toe Pilatus hom tot die kruis veroordeel het, nadat hy beskuldig is deur die belangrikste mans onder ons, het dié wat hom van die begin af liefgehad het hom nie in die steek gelaat nie, want hy het op die derde dag weer lewend aan hulle verskyn, soos die Goddelike profete hierdie en tienduisende ander wonderlike dinge oor hom voorspel het. En selfs nou het die groep Christene, só na hom vernoem, nie uitgesterf nie” (Josefus, AJ, 18.3.3). [3]

“Heel van die begin af was die oortuiging dat Jesus uit die dood opgewek is dít waarby hulle hele bestaan gestaan of geval het. Daar was geen ander motief om hulle te verantwoord nie, om hulle te verduidelik nie . . . Op geen plek in die Nuwe Testament is daar enige bewyse dat die Christene gestaan het vir ’n oorspronklike lewensfilosofie of ’n oorspronklike etiek nie. Hulle enigste funksie was om te getuig oor dít wat hulle sê ’n ware gebeurtenis was, naamlik die opstanding van Jesus uit die dood . . . Die een werklik onderskeidende feit waarvoor die Christene gestaan het, was hulle verklaring dat Jesus uit die dood opgewek is volgens God se plan, en die gevolglike beskouing van Hom as in ’n unieke sin die Seun van God en verteenwoordigende mens, en die gevolglike begrip van die weg tot versoening (Anderson, CWH, 100-101).” [4]

Verdere Bewyse:

Die Fariseers het onthou dat Jesus, gesê het Hy gaan opstaan op die 3rde dag, en spesiale reëlings is getref met Pilatus om die graf te seël en te beveilig. Daarom die wagte. (Mat 27:62-66) 

Gamaliël se wysheid, dat as die beweging van die Here is, sal niemand dit kan stop nie. Indien dit egter mensgemaak is, sal die uitloop op niks. (Acts 5:30-42) Die Jesus beweging was redelik klein in die begin, maar nogtans het baie Jode, skrifgeleerdes, en mense van ander volke en tale Hom begin volg. 

Lee Strobel vertel dat na 2jr se navorsing, het hy bevind: 

  1. Daar is voldoende mediese en historiese gronde, dat Jesus werklik gesterf het, en nie die voltering op die kruis sou kon oorleef nie. 
  2. Die getuienis van sy opstanding en die opskrywing daarvan, het baie gou na Sy opstanding plaasgevind, en kon dus betwis word.  
  3. Die leë graf, en selfs die moordenaars se erkenning hiervan, is oortuigend. 
  4. 9 Bybelse, en Bybelse bronne boekstaaf Jesus se opstanding. 

Die feit dat die dissipels, vervolg was, en ook ‘n moeilike lewe gely het agv hulle getuienis, versterk hulle getuienis.  

Die krag van Sy opstanding is vandag ’n werklikheid in ons lewe 

Van verganklik tot onverganklik.

Van sterflik tot onsterflik.

Van oneer tot eer.

Van dood tot lewend.

Van natuurlike tot bonatuurlike. 

Sy opstanding gee ons die krag om in oorwinnning te lewe! 

Efesiërs 2:5 . . . toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered.

Efesiërs 1:19-20 . . . en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele . . . 

Daar kan geen sprake van opstanding wees, sonder dat ons sterf nie. 

Ons gemeenskap met Sy dood, en oorgawe, self-verloëning is nodig vir Hom om ons ook op te wek tot ‘n nuwe lewe. Ons oorwinning oor sonde is nie, ons werke, probeerslae, en besluite nie. Ons oorwinning is Sy opstandingskrag! 

Johannes 12:24-25Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer

Romeine 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Filippense 3:10-14. . . sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Romeine 5:17 Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.

2 Korintiërs 5:21Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. (Gal 5:24) 


[1]Claiborne, S. (n.d.). The irresistible revolution. Zondervan.

[2]Nee, W. (1973). Christ the sum of all spiritual things. New York: Christian Fellowship.

[3]Mc Dowell, J. (1993). Evidence that demands a verdict. Nashville: Thomas Nelson Publishers. (bl 258) 

[4]Anderson, J.N.D. “The Resurrection of Jesus Christ.” Christianity Today, 29 Maart 1968. 

Geisler, N., Jimenez, J., Geisler, N. and Turek, F. (n.d.). I don’t have enough faith to be an atheist.

Strobel, L. (2016). Case for christ. [Place of publication not identified]: Zondervan.

Similar Posts